Komedie.

Met Kristen Bell, Sigourney Weaver en Betty White.

Regisseur: Andy Fickman.

OB.

Begin op 5 November.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Dowwe Dolla is geskok toe sy uitvind dat haar broer se verloofde die skoolboelie is wat haar lewe verrinneweer het. Sy probeer die vroumens ontmasker.

Wie sal hiervan hou?

In die bui om uit jou maag te lag vir kwinkslae wat vir ’n verandering bokant die belt is?

Lus vir gesofistikeerde vermaak wat sout op jou springmielies sal strooi? Dan is hierdie komedie presies wat jy nodig het om jou lewe op te kikker.

Veral vroue sal ’n jolige fliekpartytjie kan hou en hulle opgiggel vir die metodes wat ander vriendinne gebruik om soet wraak te neem.

Die parfuumbottel tref die fan toe daardie plannetjies boemerang!

Manne kan hulle verlustig in hoe eksentriek vroue kan wees, maar die jollifikasie is nie noodwendig op húlle gerig nie.

Wag vir DVD?

Nee. Wat is lekkerder as om in ’n groep uit te gaan en luidkeels te reageer as jy jou eie probleme herken in die vroue se daaglikse klein katastrofes?

Maar alles word heerlik tong-in-die-kies gedoen terwyl die fliek die krag van vriendskap en die lekkerte van vrouwees met ’n bonsende hart vier, en ’n toprolverdeling maak dit die moeite werd.

Dit wys dat ’n mens moet vrede maak met vetes in die verlede en die lewe moet toelaat om sy gang te gaan sonder om in te meng in ander se lewe omdat hulle keuses jou nie pas nie.

’n Hoogskop-giggelfees!

Soortgelyke flieks

As Good As It Gets, It’s Complicated.

Springmieliefeite

*Bettie White het op 88 erken dat seks steeds vir haar belangrik is en dat sy die libido van ’n 60-jarige het.

*Sy het die rol van die ma in As Good As It Gets geweier omdat sy gevoel het dat diere nie in die rolprent met respek behandel word nie.

*Sy het in 1952 die eerste keer aandag getrek met haar eie TV-reeks: Life with Elizabeth.