Ons dink: 4/5

Animasie

Met die stemme van John C. Reilly en Jack McBrayer

Regisseur: Rich Moore

OG

Begin op 28 Januarie

Is jy reg vir vanjaar se lekkerste animasieprent? Dit het Amerika se loketrekords laat spat en kinders en grootmense opgewonde laat twiet en SMS. Ralph is ’n videospeletjie-skurk. In sy videoarkade-agterplaas vernietig hy als wat voorkom tot sy slagoffers op ’n dag keelvol raak.

Of jy nou videospeletjies eet, drink en slaap of net grootoog by die raserige warboel in video-arkades verbystap, Fix-It Felix en sy maats (soos Pac-Man, Vanellope en Calhoun) sal jou siel met liefdeshartjies vul. Die regie, tekenstyl en tempo laat ’n mens aan ’n videospeletjie dink; dus moet kykers stamina hê om by te hou. Dié animasiefliek in 3D kry jou aan die kort hare beet en wikkel jou fliekverbeelding plesierig rondomtalie terwyl jy koes vir  masjiengeweerkoeëls, Ralph se vuiste en die honger Pac-Man-bekkies. Eindelik verdiep arme Ralph se dilemma verder toe hy besluit hy is keelvol daarvoor om altyd die donkerpiet in videospeletjies se mantel aan te trek en ook ’n slag Staal Burger se skoene wil vol staan.

Vat die kleintjies voor hulle te besig raak met die skooljaar en raak weer kind in dié kieliemy-mielie-komedie wat jou in die paadjies sal laat rondrol van die lag. – LEON VAN NIEROP