Ons dink: 4/5 

Romantiese grieselkomedie

Met Nicholas Hoult en Teresa Palmer

Regisseur: Jonathan Levine 

13GrG

Begin op 15 Maart

Al het hierdie fliek verlede week begin, gaan dit steeds in talle teaters gedurende die langnaweek wys. Dit is gatskoplekker vir jonges en die koelste van koel flieks wanneer dit die Romeo en Juliet-verhaal letterlik uit die doderyk, balkon en al, oproep!

R (dalk Romeo?) is ’n zombie wat menslike breins moet eet om te oorleef. Gedurende ’n menseslagting voel hy vreemd aangetrokke tot ’n meisie wie se lewe hy red. Maar hoe hou hy haar aan die lewe as hy honger is en die ander zombies vars vleis ruik? Die blink-slim draaiboek en storie blaas nuwe lewe in die krakerige ou beendere van romantiese komedies met Nicholas Hoult wat ’n ontgogelde zombie vertolk wat opnuut bewus raak van sy menslikheid.

Hoult is buitensporig talentvol, en die vonke spat tussen hom en die puik Teresa Palmer. As jy die langnaweek moet tuisbly en jy kan net een fliek kies, vergeet van Jack the Giant Slayer. Gaan wandel saam met die zombies en raak verlief op ’n slim nuwe genre, want die regisseur spot met die zombie-clichés en spuit dit vol humoristiese dog grillerige komedie wat jou tegelyk sal verbaas en sal laat giggel.

’n Bietjie te veel popmusiektreffers, maar buiten dit, topvermaak!

– LEON VAN NIEROP