Ons dink: 5/5

Oorlogsdrama

Met Gys de Villiers, Rika Sennett en Viljé Maritz

Regie: Paul Eilers

13G

Begin op 22 Februarie

Met dié manjifieke oorlogsdrama, wat oor meer as die Anglo-Boereoorlog handel, het die Afrikaanse rolprent met reuse treë gevorder. Nes met Roepman, bewys Paul Eilers dat hy visuele subteks sensitief kan skep en briljante spel kan kry. Dis beslis een van die beste Afrikaanse flieks nog en staan met trots uit as ’n prestasie van wêreldgehalte.

Al sou ’n mens wou hê dat sommige karakters (Jakobus) se innerlike konflik in die teks sterker na vore moes tree, staan Verraaiers kop en skouers bo ander rolprente uit as een wat verbysterende kommentaar lewer op die sinneloosheid en gruwelikheid van oorlog. Dit gaan ook oor gewete, misplaaste nasietrots en verbete ideologieë, liefde vir jou gesin, die brutale wyse waarop oorlog broer teen broer opsweep, maar nie ’n volk se ruggraat kan breek nie.

Danksy veral Gys de Villiers en die uitmuntende Viljé Maritz se deurleefde spel, en Andrew Thompson, Jacques Bessenger en Rika Sennett se vreeslose, volronde vertolkings, is daar ’n emosionele krag wat verlammend is. Die dor natuur wat die verskroeide innerlike landskap van die karakters weergee in Tom Marais se fotografie, asook die waansin en vrees wat onder die oppervlak smeul, word vreesloos blootgelê. Hier is geen beangste politieke korrektheid nie. Onmisbaar.

– LEON VAN NIEROP