Waaroor gaan dit? Elke sewe jaar word 30 van die wêreld se gewelddadigste moordenaars vrygelaat om op ’n eiland teen mekaar te baklei tot net een lewende oorbly...

Wie sal hiervan hou? Bitter min mense. Miskien as jy soggens gewelddadige videospeletjies speel voor die son opkom of as jy die Saw- en Hostel-reeks beter ken as jou familiestamboom, sal jy hierby aanklank vind. Dis gruwelik gewelddadig en die geweld is nie gemotiveerd soos in byvoorbeeld The Hurt Locker nie. Die geweld oorskry alle perke van moraliteit en uithouvermoë. Om 100 minute lank te kyk hoe mense mekaar op die grusaamste wyse denkbaar uitmoor, vermink en deurboor, is ’n bietjie dik vir ’n daalder. As daar nog sin was aan die geweld, soos dat net die sterkste in ’n post-apokaliptiese wêreld oorleef, was dit ’n ander storie, maar die prent is net orgasmiese, masochistiese lekkerkry.

Wag vir DVD? Nee. Dit is ook nie die moeite werd om dit op die groot skerm te gaan kyk nie, want selfs die verspreiders het aan die produk getwyfel en dit ’n paar maande op die rak laat lê en stof opgaar voor hulle dit met weersin afgehaal het. Gruwelgeweld kry hier nuwe betekenis. Daar is ook nie ’n enkele karakter van wie ’n mens hou nie. En ja, jy het reg geraai, daar is ’n kinkel in die kabel as jy uiteindelik uitvind nie almal is wie hulle veronderstel is om te wees nie. Grotesk en onaanvaarbaar.

Soortgelyke flieks Ninja Assassin, Punisher: War Zone, The Transporter 3.

Springmielie-feit Robert Carlyle het aanvanklik in ’n slaghuis gewerk voor hy bekend geword het.

THE TOURNAMENT Geweldaksie. Met ROBERT CARLYLE, KELLY HU en VING RHAMES. Regisseur: Scott Mann. 16 TGN. Begin op 26 Maart.