Waaroor gaan dit? Gedurende die laaste jaar van sy veelbewoë lewe besluit die Russiese skrywer Leo Tolstoi om sy manuskripte aan die Russiese volk na te laat. Sy vrou met wie hy al 47 jaar getroud is, skop teë. ’n Titaniese stryd ontstaan.

Wie sal hiervan hou? Hierdie intense drama met sy groter-as-lewensgroot karakters en dikwels histrioniese uitbarstings is nommerpas vir enigiemand wat keelvol is vir verstrooiingsvermaak en wat van komkommerkoel dramas hou. Helen Mirren gebruik elke sekonde om vurig aan Sofia gestalte te gee en haar konfrontasies met haar skrywerman het aan haar ’n Oscar-benoeming besorg. Moenie bang wees dat dit ’n stuk droë biltong van ’n drama gaan wees nie. Hierdie karaktergedrewe rolprent beweeg flink en die innerlike aksies en konfrontasies is baie intens. Dit is kos vir die siel en vier die krag van onvoorwaardelike liefde.

Wag vir DVD? Nee. Maak ’n spesiale aand hiervan. Indien jou geliefde sy of haar flieks ernstig opneem, neem hom of haar vir ’n verandering uit en gaan vier die lekkerte van hierdie dramatiese ware verhaal met ’n lekker ete ná die tyd. Dis gesofistikeerd en stel ’n uitdaging aan enigiemand wat van stewige, gedissiplineerde en effektiewe dramas hou wat jou siel sal verryk. Dis nie vir mense wat net hou van springmielies kou en dit met koeldrank afsluk nie. En die Russiese natuur-skoon is asemrowend.

Soortgelyke flieks The Queen, Elizabeth, The Remains of the Day.

Springmielie-feit Van die afstammelinge van Tolstoi speel as ekstras in die rolprent en was dol daaroor.

Ons dink: 4/5

Drama. Met HELEN MIRREN, JAMES McAVOY en CHRISTOPHER PLUMMER. Regisseur: Michael Hoffman. 13NS.

Begin op 26 Maart.