Waaroor gaan dit? Die bomseksie in die Amerikaanse weermag is in Irak waar hulle bomme onskadelik moet stel. Die manne raak egter verslaaf aan die adrenalien van die gevaar. Hoe ontlont hulle hul senuwees?

Wie sal hiervan hou? Mense wat oorlogsflieks voor brekfis verorber. Hierdie naelbyt-op-die-punt-van-jou-stoel-sit-fliek is die beste oorlogsprent sedert Platoon. Dit neem nié stelling in vir of teen oorlog nie, maar praat kaalvuis oor hardebaarde wat bomme on-skadelik stel en dol is oor hul werk. Hulle fluister vir die bom, vroetel in sy derms rond en besweer hul senuwees deur mekaar voos te slaan wanneer hulle niks het om te doen nie en wil ontspan. Jy het in g’n jare so ’n rateltaai uitbeelding van manne onder druk gesien wat verslaaf is aan testosteroon en die opwinding van die dood wat in hul spoor trap nie. Briljant. Dit verdien elke Oscar-benoeming. Dit voel of jy self in die oorlog is.

Wag vir DVD? Nee. Jy moet dit op die groot skerm sien om die moorddadige hitte te vóél, die sweet te ruik en onder die indruk van die moorddadige aggressie te kom. Hier is geen gesellige onpaar paar koel ouens wat kwinkslae kwytraak as hulle bomme onskadelik stel nie, net tawwe tienies wat oor bomme se binnegoed streel soos oor vroue se liggame. Hulle bewonder en haat tegelykertyd die breins agter die bomme en speel ’n dodelike skaakspel van senuwees met die ontwerpers daarvan. Spannend, komkommerkoel en beheers. Die jaar se beste rolprent – maar dis nie vir sissies nie.

Soortgelyke flieks Platoon, Apocalypse Now, Blown Away.

Springmielie-feit Dit was so warm in Jordanië waar die rolprent geskiet is dat verskeie lede van die span hitte-uitputting en sonstraal opgedoen het.

Wat ons dink: 5/5

Oorlogsprent. Met JEREMY RENNER, ANTHONY MACKIE en GUY PEARCE. Regisseur: Kathryn Bigelow. 16TG. Begin op 19 Maart.