Waaroor gaan dit? ’n Doodgewone paartjie ontdek ’n houtboks by hul voordeur. Daar is ’n knop in die boks. Indien hulle die knop druk, sterf iemand wat hulle nie ken nie. Gaan hulle die knop druk?

Wie sal hiervan hou? Enigiemand wat van genotvolle gemorskosflieks hou wat ’n mens láát in die aand met ’n reuse boks springmielies kyk. The Box is nie die soort vermaak waarvan resensente hou nie, daarom kan almal wat hulle nie ’n aks steur aan wat geleerdes sê nie, hand in die sak steek en gaan toustaan vir kaartjies. Dit is nogal grillerig en laat soms jou nekhare een vir een rys. Frank Langella het net ’n halwe gesig en daardie gevreet kan kinders nogal nagmerries gee. Wees dus versigtig om vir kleinsus onder 13 saam te vat. Maar ai, Cameron Diaz doen dit maar vir die manne, dus is dit lekker om haar in so ’n dilemma te sien waar haar blonde hare skoon in ’n bolla geklits word van spanning! Vermaaklik.

Wag vir DVD? Ja, want ’n mens sal twee keer na hierdie fliek wil kyk maar dit met die tweede kykslag met goeie vriende deel. Die atmosfeer is beklemmend en spannend, die rolprent flankeer met daardie heerlike “wat-sal-gebeur-as?”- storieslenter en hou jou aan die raai tot aan die einde wat dalk nie so voorspelbaar is soos jy dink nie. Dit waar-sku ook: oppas waarvoor jy wens, jy mag dit dalk kry. Beslis aanbeveel vir mense wat van stories hou wat aan Roald Dahl s’n herinner met ? stewige kinkel in sy stert. ’n Lekker manier om die tyd om te kry.

Soortgelyke flieks Final Destination, Passengers, Knowing.

Springmielie-feit Richard Kelly, regisseur van Donnie Darko en Domino, sê hierdie is een van sy makste rolprente nog – die ander het almal ’n ouderdomsperk van 16 of hoër gekry.

Riller. Met CAMERON DIAZ, James marsden en FRANK LANGELLA. Regisseur: Richard Kelly. 13G. Begin op 12 Maart.

Wat ons dink: 3/5