Animasiekomedie. Met die stemme van Dwayne Johnson, Jessica Biel en Justin Long. Regisseurs: Jorge Blanco en Javier Abad. A. Begin 8 Januarie.

Waaroor gaan dit? ’n Spierpaleis land op ’n vreemde planeet en annekseer dit vir Amerika, net om te ontdek dat dit deur snaakse groen wesens met koddige haarstyle bewoon word. Die pikkie wat hom ontdek, probeer hom dan wegsteek vir die ander planeetbewoners.

Wie sal hiervan hou? Pa en Ma, terwyl julle na meer volwasse vermaak gaan kyk, laai die kleingoed op hierdie eksentrieke planeet af – daar sal oorgenoeg gebeur om hulle aandag te kaap en hulle onder jou voete uit te hou. Die fliek spot met Amerikaanse verwaandheid en keer die ruimte-formule op sy kop waar vreemde ruimtewesens op aarde beland nes in E.T.

Wag vir DVD? Ja, want hy gaan so twee weke in teaters kuier voor dié kalant DVD toe verkas. Met animasieprente wat deesdae hul meer as lewensgroot beelde in 3-D laat ontplof, of wat prikkelende stories in gedetailleerde getekende realisme vertel, is dié een doodgewoon en doodgemiddeld. Dis nie so goed dat jy ’n klomp geld plus springmielie-geld hierop hoef uit te gee nie. Dit is oulik, soetsappig en prettig met die gewone ag-siestog-faktor waarby kleintjies sal aanklank vind, maar is hoegenaamd nie spesiaal nie. Net as jy niks beter het om te doen nie.

Soortgelyke flieks

E.T., Igor en Coraline

Springmielie-feite

Justin Long was in ’n verhouding met Drew Barrymore. Hy het ook ’n verhouding met Ginnifer Goodwin gehad. Sy ma was ’n aktrise en sy pa doseer filosofie aan die Universiteit van Fairfield in Amerika. Justin se bynaam is The Mac Guy.

Op die internet

http://www.planet51.com