Ons dink 3/5

Romantiese komedie.

Met Woody Allen, Penélope Cruz, Judy Davis, Ellen Page en Jesse Eisenberg.

Regisseur: Woody Allen.

13TS.

Begin op 24 Augustus.

’n Mens moet in die regte gemoedstemming wees om Woody Allen te waardeer. Jonger fliekgangers vind sy humor dikwels onverstaanbaar sinies en droog, maar hoe harder die lewe (en liefde) in jou derms gegrawe het, hoe meer troos bied ’n Allen-allegaartjie!

In dié geval is sy jongste fliek nie so lemmetjieskerp soos Midnight in Paris nie, maar steeds verfrissend. En ’n gemiddelde Woody Allen is steeds stukke beter as ’n gewone Hollywood-komedie.

Dié slag kombineer Allen vier romantiese verhale wat in Rome afspeel. Dus sal lesers wat op Rome verlief is, voel asof hulle weer daar vakansie hou. Al verskil is dat hulle sal giggel terwyl hulle ’n muntstuk in die Trevi-fontein gooi.

Nie al vier verhale is ewe suksesvol nie en by tye verloor Allen sy aanslag ten koste van grappe en kwinkslae. Maar wanneer hy op sy stukke is, ratel jou ribbekas van die giggels.

En net om Allen en Judy Davis (weer!) saam teenoor mekaar te sien as ’n getroude paar, is reeds die moeite werd. Lekker, snaaks, maar nie Allen se beste nie.

- Leon van Nierop