Misdaaddrama.

Met Ben Affleck, Rebecca Hall, Jeremy Renner en Albert Magloan.

Regisseur: Ben Affleck.

16TGS.

Begin 31 Desember.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

’n Sjarmante, koel bankrower voer vir die soveelste keer die volmaakte rooftog uit. Die bankbestuurder word as gyselaar aangehou en later vrygelaat. Maar dan raak die rower op haar verlief . . .

Wie sal hiervan hou?

Misdaadvrate wat hou van gewere wat vuur spoeg, mense wat wegduik voor die koeëls maar nie altyd getref word nie en hardebaardrowers wat op beeldskone meisies verlief raak.

Hierdie staalharde, woeste drama met murg in sy macho pype is meer betrokke by wat in rowers se siele gebeur as by hoeveel mense hulle doodmaak.

Dit bewys: Wanneer die liefde sy lastige kop uitsteek, versag selfs die gehardste paloeka se nerwe en pomp sy hart vla pleks van geld.

Affleck se regie is selfversekerd en sy aanslag gewelddadig sonder om die menslike element en die aksietonele teen mekaar te laat bots.

Wag vir DVD?

Nee. Met die hoeveelheid soetsappige vermaak wat teaters tans beset en die spookasem-trane wat mense by die dosyne stort oor Kersflieks, is hierdie Kamp Staaldraad van misdaadflieks die ware Jakob op die wye doek.

Dit gee ’n radikale nuwe en eksplisiete, gewelddadige weergawe van hoe misdadigers hul rooftogte beplan en wat gebeur as die bulle stry kry.

Die atmosfeer is benouend en die aanslag reaksionêr. Ben Affleck is komkommerkoel tuis in hierdie genre. Die fliek kan lelik skok.

Soortgelyke flieks

Layer Cake, London, Hostage.

Springmielie-feite

*Daar is glo meer bankrowers in een vierkante myl van die gebied bekend as The Town in Bos­ton as in enige ander stad ter wêreld.

*Rebecca Hall se pa het die Royal Shakespeare Company gestig en feitlik haar hele familie is deel van die teatergemeenskap.

*Dit is Ben Affleck se suksesvolste regiepoging sedert Gone Baby Gone.