Ons dink: 4/5 

Romantiese komedie

Met Leighton Meester, Hugh Laurie, Catherine Keener, Oliver Platt en Alia Shawkat

Regisseur: Julian Farino

16L

Begin op 30 November

Die sonderlinge The Oranges is ’n onvoorspelbare en kraakvars nuwe romantiese komedie wat Amerika stormenderhand verower het. Twee huisgesinne in Orange Street woon al dekades lank gelukkig naas mekaar en niks kan hul middelklas voorstedelike geluk vernietig nie.

Behalwe ’n onverwagte skandaal. Dié kwistige en oorspronklike rolprent beweeg teen die grein van gewone aanbod in deur gehore nooit te gee wat hulle verwag nie. Dit pluk jou uit jou gemaksone, maar is nie vulgêr of kwetsend nie. Maar nes in American Beauty is die regisseur genadeloos in sy ontbloting van die Amerikaanse psige en die wyse waarop die Amerikaanse gesin se fondament besig is om uitgedolwe te raak.

Morele waardes, norme, geraamtes in die kas en liefde wat homself nie aan bande laat lê deur vooroordele nie, is die kerntemas. Dit waarsku egpare ook om nooit te gemaklik met mekaar of te selftevrede met hul eie geluk te raak nie. Die een of ander tyd pop ’n wurm uit die lemoen!

– LEON VAN NIEROP