Ware lewensdrama.

Met Colin Firth, Helena Bonham Carter en Geoffrey Rush.

Regisseur: Tom Hooper.

13MT.

Begin 11 Februarie.

Ons dink: 5/5

Waaroor gaan dit?

Koning George VI hakkel. Dit beteken hy kan feitlik geen toespraak lewer nie – ook nie oor die nuutste uitvindsel, die radio, nie. ’n Onkonvensionele spraakterapeut neem hom onder sy vlerk.

Wie sal hiervan hou?

The King’s Speech is sonder twyfel een van die mees bedrewe en bekoorlikste rolprente wat nog gemaak is. Maak geen fout nie, dit is nie net vir lesers wat van kunsflieks hou nie.

Dit gaan oor die diep, onwaarskynlike vriendskap tussen twee individue uit verskillende klasse in Brittanje en hoe die kameraadskap alle grense oorbrug. Dit is ook ’n verkwiklike verhaal oor hoe enige gebrek oorkom kan word en jy met die regte leiding enigiets kan regkry.

In g’n jare was daar so ’n verfrissende, briljante rolprent met aandag aan selfs die kleinste detail nie. Hooper systap alle clichés en inspireer kykers soos min ander regisseurs dit kan regkry.

Dit is ’n beheerste meesterstuk van die hoogste orde wat deur almal gesien moet word wat vrees dat hulle nie goed genoeg is om hul drome te verwesenlik nie.

Wag vir DVD?

Jy kan dit later op DVD koop (dit is die soort rolprent wat ’n mens moet besit). Maar terwyl almal vandeesweek van die Oscar praat, staan voor in die tou om dié teer, minsame rolprent te ervaar en verkwik uit die teater te stap.

Die deerniswekkende humor in Helena Bonham Carter se vertolking, die kragtoer deur Colin Firthen die sober spel deur Geoffrey Rush maak dit ’n besielende ervaring wat jou lewe sal verryk. Gaan kyk dit, al moet jy ’n halwe dagreis ver ry.

Soortgelyke flieks

Julie and Julia, The Remains of the Day.

Springmieliefeit

Koning George VI was die pa van koningin Elizabeth II. Sy kom ook as karakter (’n opgeskote dogter) in die rolprent voor.