Ons dink: 3/5

Ware lewensdrama

Met Naomi Watts, Ewan McGregor en Tom Holland

Regisseur: Juan Antonio Bayona

Begin op 1 Maart

Mense wat gedisoriënteer uit Life of Pi gestap het, gaan vuisvoos hieruit strompel, want dié rolprent is op sigself ’n oorlewingstryd. Dis gegrond op die ware verhaal van ’n gesin van vyf wat tydens die vernietigende tsoenami einde 2004 deur die vloedgolf orweldig en van mekaar geskei word.

Hul merkwaardige verhaal van oorlewing en liefde vir mekaar word met sterk realisme oorgedra. Die tsoenamitonele is die beste nabootsings van hierdie katastrofe tot dusver; daarom is ’n groot deel van die fliek se krag en oortuigingsvermoë te danke aan die 10 minute waarin die impak van die vernietiging gewys word.

Naomi Watts moes deur nare ontberings gaan vir die tonele waar sy aan ’n boomstomp vasklou. G’n wonder sy is vir ’n Oscar benoem nie. Maar dit is jong Tom Holland, as een van haar seuns wat saam met haar probeer oorleef, wat die kalklig steel met sy intense, oortuigende spel.

Dié rolprent bring hulde aan ’n gesin wat tot elke prys bymekaar wil wees en alles in die stryd werp om te oorleef. Die fliek betreur die omvang van hierdie reuse tragedie, maar wys ook hoe liefde, deursettingsvermoë en ’n hegte gesinsband ’n groep drenkelinge na mekaar kan stuur en herenig.

– LEON VAN NIEROP