Waaroor gaan dit?

’n Ongewilde, voormalige Britse eerste minister (Tony Blair?) laat sy biografie deur ’n spookskrywer oorneem. Toe die skrywer vermoor word, word ’n bleeksiel aangestel wat ontstellende ontdekkings maak.

Wie sal hiervan hou?

Roman Polanski is nie ’n katjie om sonder handskoene te pak nie. Hy werk akteurs se sake vir hulle en is bekend vir sy onthutsende en grillerige flieks. In hierdie geval is sy regie kloustrofobies en neerdrukkend om aan te pas by die

woeste regeringsgekonkel wat die fliek oopvlek. Alles is koud, nat, mistig en donker en die arme Ewan McGregor word aan kwaai teisterings onderwerp. Polanski se misterieuse styl herinner aan Chinatown s’n met ’n tikkie The Ninth Gate daarin. Niemand is wie hulle voorgee om te wees nie en die neurotiese Polanski hou jou op die punte van jou tone.

Koel en fassinerend.

Wag vir DVD?

Sommige resensente was wreed met dié sielkundige riller, maar dit sal heerlik saam met ’n glasie rooiwyn en ’n verwarmer voor jou plasmaskerm afgaan. Dus is dit die soort Neo-Gotiese intieme griller waarvoor jy vir die DVD kan

wag. Agterdog en venynige politieke doodspeletjies vul elke raampie en jy weet nooit watter onverwagte lot gespanne karakters gaan tref nie. Al is ander resensies swak, gee Polanski ’n kans. Dit sal jou tart en treiter tot by sy taamlik

voorspelbare slot. Dit is ’n ontstemmende kat-en-muisspeletjie.

Soortgelyke flieks

Chinatown, The Tenant, The Ninth Gate.

Springmielie-feite

- Hugh Grant sou eers die hoofrol gespeel het, maar het dit ná oorweging geweier, waarna Ewan McGregor dit gekry het.

- Die hele fliek is in Duitsland geskiet.

Sielkundige riller. Met Pierce Brosnan, Olivia Williams en Ewan McGregor.

Regisseur: Roman Polanski. 13VL. Begin 21 Mei.

Ons dink: 4/5