Boksdrama.

Met Mark Wahlberg, Christian Bale en Amy Adams.

Regisseur: David O. Russell.

16TGD.

Begin 25 Februarie.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

Dit is die ware verhaal van ’n flink jong bokser se opgang na wêreldroem en die invloed wat sy groot familie op hom gehad het.

Wie sal hiervan hou?

Jy moet hare op jou tande én bors hê om hierdie rateltaai fliek te oorleef. Dit is nie tradisionele Rocky-springmielievermaak nie.

Hierdie uitmergelende en realistiese drama kyk na die invloed wat Micky Ward se loslitbroer en aardse ma op hom gehad het, maar gaan uiteindelik oor familie- en gesinsbande en hoe boks byna ’n metafoor word vir die werklike lewe.

Uithalerspel maak hierdie drama eintlik die moeite werd, en net om Christian Bale ’n gedaantewisseling te sien ondergaan is reeds ’n top-ervaring.

Die bokstonele is nie so rof soos in Raging Bull nie, want die rolprent kyk na ’n opbouproses, nie ’n aftakelingsproses nie. Uitgesproke, aggressief, driftig en stormagtig!

Wag vir DVD?

Nee. Die bokstonele moet op die silwerdoek gesien word as jy wil byhou– die bewegings is weerligsnel en die houe reën vinniger as wat die oog kan volg.

Die karakters is ook groter as die lewe self en ontsluit ’n nuwe wêreld vir diegene wat nie die bokswêreld so goed ken nie.

Die fliek kyk indringend na twee broers wat mekaar hartstogtelik liefhet, maar vrees dat hul verhouding hulle albei kan pootjie op pad na roem en geluk.

Moenie ’n vermaaklike ‘‘gaan hy wen of nie’’-kaperjolle verwag nie. Die fliek is nie so ligsinnig nie. Hierdie drama is karaktergedrewe en die gehoor moet bitter hard werk as hulle wil byhou.

Soortgelyke flieks

Raging Bull, The Wrestler.

Springmieliefeit

*Die gimnasium waarin die meeste tonele geskiet is, is dieselfde een wat die werklike Micky Ward gebruik het om in te oefen.