Epiese verhaal.

Met Channing Tatum, Jamie Bell en Denis O’Hare.

Regisseur: Kevin Macdonald.

13G.

Begin 8 April.

Ons dink: 2/5

Waaroor gaan dit?

In die jaar 140 verdwyn die Negende Legioen in Skotland. Marcus Aquila en sy slaaf Esca word gestuur om die legioen se arend-embleem te gaan haal.

Wie sal hiervan hou?

Avontuurliefhebbers kan sweetdruppels afvee! Die gevegstonele is rateltaai en amper videospeletjie-gewelddadig met ledemate wat in alle rigtings trek en die drama en bloed van oorlog wat die silwerdoek oorheers.

Ongelukkig het Channing Tatum nie die gesag of spelvermoë om die rolprent te dra nie. Meisies se knieë kan lam word oor sy sespak en hy kan ’n swaard stewig vasvat, maar hy is te lig in die broek vir die uitmergelende rol.

Jamie Bell speel hom onder die tafel in.

Die rolprent bring hulde aan ’n seun se liefde vir sy pa en wat hy alles sal doen om sy eer te herstel. Dit gaan ook oor die ontdekking van ’n vreemde, vyandige gebied en wys hoe verdeeld Brittanje in die tyd van die Romeine was.

Die kameraderie tussen manne en bloedbroederskap vorm eintlik die kern terwyl die verlate landskap simbolies is van die lyding van manne wat ’n land probeer bevry.

In die kraal van macho avontuursoekers, maar moeilik as jy nie van uitmergelende oorlewingstories hou nie.

Soortgelyke flieks

The Way Back, The Book of Eli.

Springmieliefeite

*Aquila is die Latynse woord vir arend.

*Die rolprentmakers het ’n rooistertvalk se roep gebruik vir die arend s’n en is deur resensente daaroor geroskam. Daar is nie rooistertvalke in Europa nie.

*Die rolprent is gegrond op Rosemary Sutcliff se tienerroman.