Musiekdrama.

Met Mélanie Laurent en Aleksei Goeskof.

Regisseur: Radoe Mihaileanoe.

13T.

Begin 7 Januarie.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Beroemde Russiese dirigent verloor in die 1980’s sy werk omdat hy dit durf waag om Jode in sy orkes toe te laat.

Dekades later werk hy as skoonmaker in ’n bekende operahuis in Rusland.

Hy verneem toevallig die beroemde Châtelet-teater in Parys wil die Bolsjoi-geselskap Frankryk toe nooi en hy gryp die kans aan om skelm sy voormalige orkes bymekaar te maak om in die plek van die Bolsjoi-orkes te gaan.

Wie sal hiervan hou?

Ek weet wat jy dink: ’n Russiese rolprent met byskrifte! Hoe kan dit vermaaklik en interessant wees? Maar glo my, as jy van musiek en goeie rolprente hou, is hierdie een die ware Jakob.

Nie alleen sleur die storie jou van die eerste vyf minute af mee nie; die onverwagte skeutjies humor, die beeldskone musiek, die kwinkslae en die kleurryke karakters sal jou vasgenael hou. Kry kos vir jou siel met hierdie prikkelende en hoogs oorspronklike verhaal oor ’n onmoontlike droom wat waar geword het.

Wag vir DVD?

Nee! Jy moet saam met ’n gehoor in ’n teater sit en kyk hoe van die wêreld se topmusikante gehore hipnotiseer met hul briljante musiek.

Buitendien, daar wys op die oomblik so baie spookasemflieks op die kringloop dat jy die kans moet aangryp om so ’n meevoerende, knap ervaring mee te maak.

Soortgelyke flieks

The Band’s Visit, The Soloist.

Springmieliefeit

*Mélanie Laurent het die rol van Shosanna gespeel in Quentin Tarantino se Inglourious Basterds.