Ware lewensdrama. 

Met Ryan Phillippe, Frank Rautenbach en Taylor Kitsch. 

Regisseur: Steven Silver.

16TG.

Begin 22 Julie.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

Hierdie rolprent beeld die ware verhaal uit van vier jong fotograwe, onder andere Ken Oosterbroek, wat die gewelddadige oorgangstydperk in Suid-Afrika uitgebeeld het toe apartheid gesterf het.

Wie sal hiervan hou?

Nie noodwendig skiet-skop-en-doodbloei-aksievrate nie, maar lesers wat erns het met geskiedenis en wat werklik agter die skerms gebeur het gedurende die dae toe die land op die punt van burgeroorlog gestaan het.

Die mannemoed van hierdie soldate-met-die-kamera wat onder koeëls deurgemaneuvreer het om ’n land in transformasie uit te beeld, is uiters effektief.

Hulle het ’n bloedige geskiedenis in unieke aksiebeelde vasgevang; dus het hul foto’s meer gesê as die retoriek en toesprake van politieke verhoë af.

’n Mens is nie seker of alles (byvoorbeeld die romantiese elemente) werklik nodig was nie, maar spelers soos Neels van Jaarsveld en veral Taylor Kitsch kruip onder die velle in van soldate wat, soos die manne van The Hurt Locker, floreer het op adrenalien terwyl hulle hul werk vreesloos gedoen het.

Fliekgangers wat wil weet hoe brutaal gevaarlik fotograwe se werk kan wees, en wat wil verstaan wat met fotograwe soos Anton Hammerl gebeur het, sal diep getref word deur hierdie rateltaai rolprent wat as ’n monument dien vir diegene wat ons ingelig het.

Ongelukkig het die kollig net op hulle geval as hulle met hul lewe geboet het, soos Ken Oosterbroek.

Soortgelyke flieks

The Hurt Locker, Bloody Sunday, Fifty Dead Men Walking.

Springmieliefeite

*Die werklike Kevin Carter (Taylor Kitsch) het later selfmoord gepleeg. Sy selfmoordbrief het melding gemaak dat die bloedige beelde wat hy daagliks moes verfilm, by hom gespook het.