Spanningsdrama.

Met GEORGE CLOONEY, IRINA BJÖRKLUND en LARS HJELM.

Regisseur: Anton Cor­bijn.

16NSG.

Ons dink: 3/5

Begin op 3 Desember draai.

Waaroor gaan dit?

’n Sluipskutter pleeg sy laaste moord en vlug na ’n klein dorpie in Italië om homself weer te vind. Sy baas is egter ongelukkig met sy besluit.

Dan ontmoet die sluipskutter ’n beeldskone prostituut in die agterstrate . . .

Wie sal hiervan hou?

George Clooney hoef net sy kuiltjies kamera toe te flits en vroue swymel by die dosyne, dus sal daar vir sy vroulike bewonderaars oorgenoeg plesier vir die oog wees.

Maar manne sal net soveel plesier put uit hierdie hardebaard-drama wat eintlik handel oor hoe ’n sluipskutter se kop werk en hoe hy moorde so koelbloedig kan pleeg.

Daar gebeur vir lang tye “niks” omdat die rolprent hom besig hou met die tegniese aspekte van sluipmoord en hoe hy ammunisie vervaardig.

Maar daar is ook beeldskone vroue (wat uithaal en wys) wat vir die manne as ’n lekker lokaas kan dien. Dus bied die fliek iets vir alle smake. Maar dit is nié aksiebelaai nie!

Wag vir DVD?

Ja, jy kan, want dit is ’n onderspeelde, stil dog spannende fliek oor die vrese en senutergende insidente wat ’n sluipmoordenaar te beurt val.

Hy het in der waarheid ’n romantiese verhouding met wapens en koeëls, waarvoor hy blykbaar meer voel as vir enige vrou. Tot hy die prostituut ontmoet.

Die atmosfeer is swaar gelaai en is donker en broeiend en die rolprent is skraps aan aksie, want dit is nie waaroor dit gaan nie.

Dit kruip onder die vel van ’n sluipmoordenaar in en het nie ’n saak met vermaak nie.

Wees dus gewaarsku! Hierdie politieke drama is knap maar veeleisend.

Soortgelyke flieks

The Green Zone, The Hurt Locker, The Ghost Writer.

Springmieliefeit

*Die wapen wat George Clooney gebruik is James Bond se berugte PPK-pistool.