Misdaaddrama.

Met Chris Brown, Hayden Christensen en Matt Dillon.

Regisseur: John Luessenhop.

16TG.

Begin op 29 Oktober.

Ons dink: 2/5

Waaroor gaan dit?

’n Klomp verwaande bankrowers slaag daarin om vir die hoeveelste keer geld te roof en daarmee weg te kom. Maar dan besluit hulle om ’n pantservoertuig van miljoene te beroof.

Wie sal hiervan hou?

Mense wat daarvan hou om te sien hoe bankrowers hul rieme styfloop, maar wat die rooftogte en daaropvolgende jaagtogte geniet.

Hierdie fliek is rateltaai en lê sy ystervuis met mening én houding in. Dit is interessant om Hollywood se sagte soetseuntjie (Hayden Christensen) in so ’n macho en bose maar stylvolle rol te sien.

Dit gee ’n nuwe dimensie aan hierdie rooftogfliek wat eintlik maar net nóg ’n hoofstuk in die soveelste bankrowersage is.

En Matt Dillon moet nou ’n ander rigting inslaan as sulke bombastiese en hardekoejawel-rolle. Daar sit meer in dié knap akteur se broek as om vererg te grom en diewe te moker.

Wag vir DVD?

Dit is ’n tipiese DVD-fliek waarvoor ’n mens nie noodwendig sal uitgaan nie. Saterdagmiddae waarop daar nie rugby gespeel word nie, is gemaak vir flieks soos hierdie een.

Of dalk is dit net reg as die vroue uit is vir ’n giggelsessie by die Mall en die manne weer ’n band by die huis wil vorm. Dán sal hierdie koel maar voorspelbare fliek gemaklik afgaan met ’n biertjie en ’n pak skyfies.

Maar in ’n land waar bankrooftogte aan die orde van die dag is en die koerante wemel van berigte oor rooftogte, wil ’n mens nie eintlik betaal om misdaad in glans en praal te sien nie.

Soortgelyke flieks

The Tournament, London, From Paris with Love.

Springmieliefeite

*Hayden Christensen is eintlik Kanadees en het op 13 sy debuut op televisie gemaak.

*Sy eerste groot rol was in Higher Ground as ’n tiener wat deur sy stiefma gemolesteer is. Resensente het sy vertolking geloof.