Kinderavontuur.

Met Kyle Chandler, Elle Fanning, Joel Courtney en Gabriel Basso.

Regisseur: JJ Abrams.

10TG.

Begin op 29 Julie.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit? 

’n Groep laaities en ’n koel meisie maak ’n tuisfliek – en verfilm per ongeluk ’n grusame treinongeluk wat hul lewe verander.

Wie sal hiervan hou?

Steven Spielberg-profete en JJ Abrams-groupies sal agterkom dis een van die min rolprente wat weer naby die sjarme van Spielberg se flieks van die 80’s kom. Hy is dié slag die vervaardiger, maar sy invloed is duidelik merkbaar.

Die fliek sidder van passie en nostalgie vir jonkwees en die onskuld van rolprentmakers wat hul voete en menswees vind.

Maar uiteindelik ontpop hierdie avontuur in ’n asemrowende wetenskapsfiksie – een van die bestes in sy soort, wat herinner aan die 50’s se beheptheid met monsters uit die buitenste ruim.

Die optrede van die jong latte word pragtig vasgevang deur Abrams (en Spielberg) en smokkel met enige laaitie se drome wat eendag iets wil word en dalk flieks wil maak.

Maar dit gaan ook oor die ontdekking van eerste liefde en hoe verskeurde gesinne uiteindelik herenig.

Die effekte is koel en dinamies en die storie sal jou vaster vang as wat jou sywurm homself toespin op ’n moerbeiblaar.

Topvermaak vir oud en jonk.

Soortgelyke flieks

E.T., Cloverfield, Close Encounters of the Third Kind.

Springmieliefeite

* JJ Abrams het nes die held in die fliek met 8 mm begin flieks skiet toe hy nog ’n kannetjie was.

Toe Steven Spielberg nog ’n tiener was, het hy Abrams en Matt Reeves (medevervaardiger) gevra om sy 8 mm-flieks te redigeer, en so het ’n lewenslange vriendskap ontstaan.

Al drie rolprentmakers het die draaiboek gegrond op die wetenskapsfiksieprente wat hulle in die 50’s as laaities skelm gaan kyk het.

Die dorp Lilian is na Abrams se ouma Lillie genoem.

Volg Huisgenoot op Twitter.