Ons dink: 2/5

Romantiese komedie

Met Miley Cyrus, Joshua Bowman en Jeremy Piven

Regisseur: Tom Vaughan

10O

Begin op 29 Maart

O my koelboks! Wat ’n tienertierlantyntjie-fliek! Hierdie Miley Cyrus-kaperjolle is voorspelbaarder as die atmosfeer in jou eerste Maandagoggendklas en net so vervelig soos die langvraag wat jy vir die eksamen misge-spot het.

’n Rabbedoe hou haar parfuumbespuite lyfie speurder en word gedwing om haar as ’n ware FBI-speurder voor te doen. Sy fladder na ’n kollege om onbeduidende onheilighede te ontmasker. Maar hoe skakel sy in by die geverfde, giggelende, iPod-luisterende irritasies wat die koshuis met haar deel?

Hierdie fliek is uitsluitlik gemaak vir tienermeisies wat hul iPhone se kodes beter ken as hul onderwysers se name en wie se skermskutte uit hondjies met strikkies bestaan. Die karakters se grimering is swaarder as hul gewetes en die storie dunner as ’n stertriem.

Meisies gaan kyk om oor oulike seuns te swymel, na koel kwinkslae te luister en om hul vietse lyfies op die maat van gereelde uitbarstings van popmusiek te wikkel. Dis die soort fliek wat jy op jou iPad of selfoon moet kyk, so onmerkwaardig is dit. Ouers, vermy dit soos ’n tienerpartytjie! Meisies onder 18 moet dit as ’n giggelende groep bywoon en daarna SMS: Koel!

– LEON VAN NIEROP