Ons dink: 2/5 

Swart komedie

Met Colin Farrell, Woody Harrelson en Sam Rockwell

Regisseur: Martin McDonagh

16TG

Begin op 12 April

Net die titel is reeds ’n aanduiding dat hierdie swart komedie die galgtou om fliekgangers se nek gaan plaas met ’n wankelrige verskoning vir ’n stoeltjie onder hul voete en dit dan lag-lag uitskop. Hierdie hardebaardbooswigte skrik nie vir die gereg nie en terroriseer die held met mening en ’n moewiese koel houding.

’n Draaiboekskrywer wat verbete probeer skryf, maak kontak met die Mafia in Los Angeles en wil hulle dan gebruik om hom met sy storie te help. Maar toe hy eers by hierdie manne se onderduimshede begin betrokke raak, is daar geen omdraaikans meer nie. Net jammer die pad agtertoe is met vlymskerp lemmetjies besaai.

Colin Farrell en die regisseur, Martin McDonagh, het al aan die onortodokse In Bruges saamgewerk; hulle ken mekaar se streke en vul mekaar (en die storie) vermaaklik aan. Onthou net, dit is ’n venynige en dikwels bose komedie wat meermale sekere situasies so ver voer dat ’n mens nie meer daarvoor kan lag nie.

Jou humorsin moet deur doringdraad omring word en jou senuwees gepantser wees om hierdeur te sit sonder om grimmig te grynslag. Berei jou dus voor op ’n unieke maar folterende lag-ervaring; die geweld is bloedig.

– LEON VAN NIEROP