Tienerkomedie.

Met Michael Cera, Alison Pill en Mark Webber.

Regisseur: Edgar Wright.

13MTGS.

Begin op 13 November.

Ons dink: 4/5

Waaroor gaan dit?

Scott Pilgrim is ’n koelkoos wat moet kies tussen ’n meisie genaamd Knives en die amoreuse Ramona Flowers. Maar om Ramona te vang, moet hy eers haar sewe koddige kêrels uitoorlê!

Wie sal hiervan hou?

Straatslim javels met ’n slenter in hul stappie, agterstevoor pette en Bostik-kuifies. Maar ook bleeksiele wat dink dis koel om lomp te wees, en met puisies worstel.

Hierdie plesierige komedie sal jou kliere kielie en jou moed laat tuimelspring. Dis ’n jolige laaglê-komedie waarmee jy kan ontspan om eksamenstres te vergeet en jou as af te lag vir Scott se simpel maniere en pogings om ’n meisie te kry.

Dit help ook dat hy in sy eie verbeeldingswêreld leef wat jou vinnig sal intrek en katswink sal slaan. Jy kan nie na hierdie koel tienerpaartie kyk sonder ’n boks springmielies en jou beste pelle by nie.

Soebat ’n kaartjie by jou ou mense, maar gaan kyk! Die fliek gee gas!

Wag vir DVD?

Nee. Terwyl jy nou in die middel van die eksamendrukgang is, is daar geen beter manier om daai aaklige wiskundeformules en driehoeksverhoudings vir die oomblik opsy te skuif en net jou hare te laat loshang vir koel kaperjolle nie.

Die fliek spot nie met tieners nie, maar verduidelik hoekom jong outjies en meisies soms angstig raak en hoe vervlaks moeilik dit is om verlief te raak, puisies te zap, te oorleef en nog jou standerd ook deur te kom.

Maar toemaar, wanneer die vakansie aanbreek, sal Scott steeds meisies sjarmeer.

Soortgelyke flieks

Juno, Kick-ass.

Springmieliefeite

*Michael Cera het ’n oudisie afgelê vir die rol van die seuntjie Cole in The Sixth Sense, maar Haley Joel Osment het dit gekry.

*Cera beteken “was” in Italiaans. Cera se pa is van Italiaanse afkoms en sy ma is Kanadees.