Ons dink: 4/5

Misdaaddrama.

Met Taylor Kitsch, Blake Lively, Benicio del Toro en Salma Hayek.

Regisseur: Oliver Stone.

18TSDNG.

Begin op 7 September.

Oliver Stone (Platoon, Wall Street) is ’n harde ou ballie. Sy jongste rolprent dra een van die strengste ouderdomsperke nog en waarsku teen alles behalwe vooroordeel. Berei jou dus voor om doringdraad te kou.

Hierdie uiters gewelddadige en seksueel eksplisiete rolprent (het die akteurs dit regtig gedoen?!) gaan oor twee daggasmouse wat op dieselfde meisie verlief is en albei ’n seksuele verhouding met haar het. Sy word ontvoer en ’n Mexikaanse dwelmkartel dwing die koel jafels om ’n onmenslike taak uit te voer of hulle verniel haar.

Dit is Stone op sy beste en neig terug na sy Natural Born Killers, maar hy besin ook oor goed en kwaad. In dié aweregse gewelddrama is al die karakters boosdoeners. Jou ankerkarakters is dus boos en verdien wat hulle kry, sou jy kon sê. Stone vier hul ongebondenheid en anti-establishment-sienings. Dis lekker om jonk, dom en vol testosteroon te wees, waarsku die prent.

Salma Hayek lewer ’n kragtoer as ’n gruwelike vroueskurk. Dit is ’n moet vir Stone-aanhangers, maar taaier as ’n tameletjie.