Animasiekomedie.

Met die stemme van Johnny Depp, Isla Fisher en Timothy Oliphant.

Regisseur: Gore Verbinski.

10MG.

Begin 20 Maart.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Bleeksiel-verkleurmannetjie beland per ongeluk in die Wilde Weste. Maar nog erger: Hy bevind hom in ’n woeste dorpie vol skurke wat hy moet uitoorlê. Maar sy pootjies bewe . . .

Wie sal hiervan hou?

Mense wat dink Johnny Depp is die koelste ou in Hollywood en wat verkleurmannetjies as troeteldiere aanhou! Die fliek is eintlik ’n parodie op Wilde Weste-prente en die Wilde Weste-kultuur. Elke cliché word met ’n byderwetse houding ingespan.

Maar, soos gereeld in animasie gebeur, is dit die bleeksiele en verloorders wat helde word. Die rolprent kry dit ook reg om die Wilde Weste-houding na te boots in musiek, spel en die tipiese landskappe. Maar dit maak ook plante en diere op ’n briljante manier deel van die storie.

Anders as in ander animasieprente is dit die geheel wat beïndruk en die wyse waarop Gore Verbinskialles saamsnoer, nie net in enkele elemente soos liedjies nie. Die humor is terloops met ’n moedswillige straatslim stappie, terwyl die spel perfek by die karakters pas.

Dit bring ook hulde aan Sergio Leone se Wilde Weste-flieks soos Once upon a Time in the West en die klassieke John Ford-verhale van mannemoed. Dit bewys dat heldemoed in ’n man se broek en siel sit, en al bewe hy hóé, hy kan oorwin.

Jy sal gil van die lag, maar terselfdertyd terugverlang na die dae toe goeie ou skiet-skop-en-doodbloei-flieks ons Saterdagmiddae vasgenael gehou het en die goeie ou altyd gewen het.

Soortgelyke flieks

Despicable Me, Toy Story 3 en ou Wilde Weste-flieks.

Springmieliefeite

*Dit is die eerste animasieprent waarin Amerikaanse sensors waarsku teen tonele waarin gerook word.

*Depp se byname is The Colonel en Mr Stench.