Ons dink: 3/5

Romantiese komedie

Met Anna Kendrick, Brittany Snow, Rebel Wilson en Skylar Astin

Regisseur: Jason Moore

10T

Begin op 7 Desember

Hou jy van Glee? Sokkie jy nog saam met High School Musical op DVD? Dan sal jou vermaakkliere op aandag staan vir dié musiekprent. ’n Groep bitsige sangeresse, The Bellas, kry nuwe energie toe ’n nuwe lid (Anna Kendrick) aansluit. Maar die yster-magnolia wat hulle beheer, weier om hul kleredrag of aanslag te verander. Die ouens wat hul manlike eweknie vorm, ding met massas testosteroon en oorgawe teen hulle mee. Wie gaan wen?

Natuurlik is die storie net so voorspelbaar soos jou selfoon se luitoon en meer onmoontlik as die einde van die laaste Twilight-fliek. Maar is dit ’n jollifikasie! Gooi vooroordele oorboord, ignoreer die stereotipes en jol saam met die dansers wat Glee se talentvolles na amateurs laat lyk. Boonop spog die rolprent met Skylar Astin as die romantiese prins met die wit kitaar. Hy is superkoel en ’n opwindende jong talent. Die uitbundige musiekprent is nou wel nie een van die jaar se bestes nie, maar dit sal jou meevoer en laat hop.

– LEON VAN NIEROP