Ons dink: 3/5

Komedie

Met Catherine Keener, Chace Crawford, Elizabeth Olsen en Jane Fonda

Regisseur: Bruce Beresford

16D

Begin op 16 November

Die kloof tussen geslagte raak ál groter, maar in dié geval is die vrydenkende rebel ’n 70-jarige tante wie se konserwatiewe dogter nie die pyp kan rook nie. Letterlik! Want Jane Fonda flankeer met dwelms (vandaar die ouderdomsperk) soos ander vroue aspiriene sluk.

Toe haar dogter ná ’n egskeiding by haar ma opdaag, neem die ouma oor, sit woema in haar kleinkinders se are en leer almal wat blomme in hul hare wil dra dat die hippie-era steeds na wierook ruik. Vrye liefde en lewe met oorgawe laat haar horlosie wikkel, tot die ouma haar lewensfilosofie ’n bietjie te ver voer en haar dogter opnuut van haar vervreem.

Vir ’n verandering grinnik die ouer geslag vir die jonges wat verleer het om die lewe te geniet en wat so vasgevang is in hul nuwe tegnologie-deurdrenkte wêreld dat hulle vergeet het die lewe is wat jy daarvan maak. Dié oorspronklike komedie is vir almal wat nie by die laaste Twilight-fliek kan inkom nie. Die intelligente fliek bevredig alle ouderdomme bo 16 en bewys ’n mens is so oud soos jy voel. Maak ook kennis met die onwaarskynlikste slagter nog in flieks . . .

– LEON VAN NIEROP