Ons dink: 2/5 

Aksiedrama

Met Jason Statham, Jennifer Lopez en Michael Chiklis

Regisseur: Taylor Hackford

16TG

Begin op 29 Maart

Drie sekssimbole saam in een rolprent? Dit kan net smeul! Jason Statham, die denkende vrou se sekssimbool, lyk heel gemaklik (en warm!) teenoor die sexy Jennifer Lopez, maar dis die robuuste Michael Chiklis wat die twee snare se kitare omkrap.

“Hoe slaap jy snags?” vra ’n siniese Lopez vir die stoppelbaard-Statham. “Ek drink nie koffie ná sewe nie,” antwoord hy nonchalant. Dis daardie soort koel aksierolprent waar Lopez bloot dien as ooglekkergoed. So is Statham gelukkig genoeg om haar te beveel om haar klere uit te trek, net om seker te maak sy versteek nie wapens nie. Maar sy oë vier fees wanneer die meisie uitlokkend ontklee.

Dié vuisgeveg-drama waar motors jaag, mense van geboue af hang, Statham voos geslaan word en nie ’n skrapie opdoen nie en Lopez gereeld been wys, is spesiaal gemaak vir vakansietye en langnaweke. Jy kan jou brein afskakel, hik vir elke vuishou en net sit en staar.

Taylor Hackford regisseer die aksie flink en stylvol, die hardebaard-skurke is stereotipes en Statham se hoed gooi net genoeg skadu oor sy gesig om hom kans te gee om ’n paar kortaf woorde te grom. Jy weet presies wat om te verwag in hierdie aksieprent met meer vuishoue as breinselle.

– LEON VAN NIEROP