Komedie.

Met Ashton Kutcher en Natalie Portman.

Regisseur: Ivan Reitman.

16DST.

Begin 1 April.

Ons dink: 2/5

Waaroor gaan dit?

Twee wulpse minnaars besluit om hul verhouding fisiek te hou. Maar hoe lank kan liggaam en veral gees dit hou?

Wie sal hiervan hou?

O wee, nie noodwendig bewonderaars van me.Portman nie, want buiten dat jy haar in verskeie stadia van ontkleding sien, is haar spel ver benede haar Black Swan-standaard.

Sy vertolk boonop ’n oppervlakkige en selfs onverantwoordelike rol. As jy haar Oscar-wennende spel wil onthou, vermy hierdie een liewer.

En Ashton Kutcher, plesier vir die vroue-oog soos hy is, kies deesdae heeltemal verkeerde rolle. Daar is op die oomblik ’n kunsmatige valsheid en narsisme aan sy spel wat onlangs aan hom die Razzie vir swakste akteur van die jaar besorg het.

Hier het jy dus die geleentheid om die swakste en die beste akteur van die jaar teenoor mekaar te sien, en boonop die helfte van die tyd in die kooi of sonder klere!

Die rolprent maak sy punt reeds vroeg: dat ’n mens, veral as jy jonk is, op seks en koue water kan lewe, maar dat emosies die een of ander tyd oorneem en jou gewete en siel begin vasskop teen leë, onverantwoordelike rondslapery.

Daar is baie sekstonele wat konserwatiewe kykers kan skok. Die dialoog is soms gevat en koel, maar dinge raak later net te uitgerek (en warm!).

’n Tipiese Ashton Kutcher-kaalbolyf-kafoefelfliek, maar nie ’n goeie keuse vir Natalie Portman nie.

Soortgelyke flieks

There’s Something about Mary, Killers, What Happens in Vegas.

Springmieliefeite

*Ashton Kutcher het biochemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Iowa geswot en sy graad gekry.

*Hy was op ’n kol so arm dat hy sy bloed moes verkoop om liggaam en siel aanmekaar te hou.

*Hy het ’n tweelingbroer, Michael.