Ons dink: 2/5

Wetenskapsfiksie

Met Joseph Gordon-Levitt, Bruce Willis en Emily Blunt

Regisseur: Rian Johnson

16TGN

Begin 14 Desember

Om te dink die tiener met die skeermes-bek van Third Rock from the Sun het so ’n formidabele jong man geword! In The Dark Knight Rises het Joseph Gordon-Levitt gewys hy weet hoe om ’n aksierol geloofwaardig te vertolk. In Looper kry hy aanvanklik sterk kompetisie van Bruce Willis, maar die film is glad nie so rooiwarm soos die plakkaat jou beloof nie. Dis eintlik ’n verbaster- de weergawe van Total Recall.

Die gereg stuur misdadigers 30 jaar die verlede in waar ’n taakmag die skarminkels uitgelate doodskiet en in goud betaal word. Die langdradige fliek smokkel met jou kop en logika. Nie dat ’n mens oor ’n wetenskapsfiksieverhaal lastige vrae moet vra nie, maar dié storie raak te verwikkeld. Willis raak voorspelbaar in sy rolle, terwyl Gordon-Levitt hom lelik die loef afsteek. Emily Blunt word vermors op ’n ondankbare, gewelddadige ooglekkergoed-rol. Die fliek lyk eintlik na ’n nuwe weergawe van ’n moeë ou storie. Dis net al tevore soveel beter gedoen. Maar wie weet, dalk hou jy daarvan.

– LEON VAN NIEROP