Rated: 3/5 

Menslike drama

Met Lindiwe Ndlovu, Vuyelwa Msimang en Jonathan Taylor

Regisseur: Darrell Roodt

13OG

Begin op 26 April 

’n Meisie word vir dood in die bosse agtergelaat nadat ’n woestaard haar aangerand het. ’n Vrou ontdek haar, red haar lewe en neem haar as haar eie aan. Maar wat het van die kind se ma geword?

Darrell Roodt het al met Yesterday (2004) bewys hy is ’n goeie akteursregisseur. Danksy sy spelleiding het Lindiwe Ndlovu onlangs ’n Safta gewen as beste aktrise vir haar rol as die simpatieke ma. Die rolprent waarsku weer teen verkragting en die huidige vlaag van geweld wat die land teister, maar dit gaan ook oor menslikheid en die wyse waarop verantwoordelikheid jou lewe kan verander.

Draaiboekprobleme kniehalter die film ’n bietjie, soos die vinnige ommeswaai van die vrou se wreedaardige man wat skielik ’n saggeaarde pa word en die biologiese ma van die kind wat haar nooit soek nie. Die einde is ook net ’n bietjie te netjies uitgedink. Maar as ’n aanklag teen geweld en ’n pleidooi om medemenslikheid behoort Little One gesien te word.

Die tonele waar die meisie met ’n sak oor haar kop rondloop om haar wonde te verberg, raak aan jou hartsnare. Little One, gebreke en al, is inspirerend en tydig. Gaan kyk as jy wil sien wat geweld aan mense doen.

– LEON VAN NIEROP