Ons dink: 4/5

Geskiedkundige drama

Met Daniel Day-Lewis, Joseph Gordon-Levitt en Sally Field

Regisseur: Steven Spielberg

O 10-12

Begin op 1 Februarie

“Sjoe!” sug baie mense seker, “dié geskiedenisles lyk na baie harde werk!” Moenie glo nie. Al is die rolprent lank en die onderwerp swaar en donker, gee Steven Spielberg soveel viriele lewe daaraan, dis noodsaaklik dat almal dit sien. Dit geld veral vir leerders vir hul geskiedenis- projekte en lesers wat in die (Amerikaanse) geskiedenis belangstel.

Dié dramatiese, meevoerende greep uit die werklikheid speel af in 1865 in die laaste maande van een van Amerika se bekendste en geliefdste presidente, Abraham Lincoln, se lewe. Hy wou slawerny afskaf en met die Burgeroorlog wat byna verby was, moes hy ’n fyn plan beraam vir genoeg stemme in die Kongres om die nuwe wet deur te voer. Hoe hy daarin geslaag het, is die kern van dié ontroerende en boeiende geskiedkundige drama.

Moet dus nie verwag die film gaan preek of jou met ’n magdom feite oorweldig nie. Die geniale Spielberg blaas nuwe lewe in ou feite, herskep karakters wat tot dusver net ’n standbeeld of ’n gesig op ’n banknoot was en dwing jou om betrokke te raak en deel te neem aan die gebeure. En wie weet, dalk wen dié monumentale werk ’n hand vol Oscars op 24 Februarie. Sterk aanbeveel.

– LEON VAN NIEROP