Musiekprent.

Met Bobby van Jaarsveld, Lika Berning en Elize Cawood.

Regisseur: Brian Webber.

A.

Begin op 19 November.

Ons dink: 3/5

Waaroor gaan dit?

’n Boerseun dink hy’t sy trouvrou gekry toe hy op ’n blondine verlief raak – maar dan daag die beeldskone Liefling in sy lewe op.

Wie sal hiervan hou?

Elke liewe Huisgenoot-leser wat ’n skaduwee gooi.

As jy jou oorgee aan die voeteterg-ritmes, uitgelate styl, vermetele waagmoed en drafstap-gemaklike storie, sal jy sommer twee keer op hierdie nostalgiese trippie teruggaan na die goeie ou dae van die Afrikaanse musiekprent.

’n Mens vergewe die rolprent sy dun storie en die feit dat nie al die sangers kan toneelspeel nie.

Dit is die oorgawe waarmee hulle sing, die aansteeklike ritme van die regisseur en die warm hart waarmee die rolprent klop wat hierdie ’n saamsing- stres-ontlader vir die Kerstyd maak.

En net Riaan Cruywagen se kort en skreeusnaakse verskyning alleen is die prys van ’n kaartjie werd! Lika Berning is ’n vonds.

Wag vir DVD?

Jy gaan dit in elk geval volgende jaar weer op DVD kyk; gaan geniet dit dus saam met jou gesin in ’n teater, al moet jy ver ry daarvoor.

Dit is een van daardie bloosplesiertjies wat ’n mens soos ’n kalorie-besmette koeksister op ’n kerkbasaar skaamteloos verorber dat die stroop teen jou kiewe afdrup.

Skakel jou breinselle af, stof die lirieke van ou treffers af en vier die lekkerte van die eerste Afrikaanse musiekrolprent in 30 jaar met blosende wange.

Die rolprent borrel soos vars-gebroude gemmerbier op ’n Kerspaartie en sal jou met nostalgie, heimwee en uitbundige vreugde vervul.

Gaan kyk!

Soortgelyke flieks

Mamma Mia!, Hoor My Lied.

Springmieliefeite

*Dit is Bobby van Jaarsveld se eerste hoofrol as romantiese held.

*Lika Berning is die dogter van Regardt van den Bergh en Jana Cilliers.

*Elize Cawood het Die Nostalgie self gesing.