Waaroor gaan dit?

God verloor sy geduld met die mensdom en stuur ’n legioen engele af aarde toe om die mensdom uit te wis. Die mens se enigste redder is ’n blonde spierpaleis van ’n engel, Michael. Wie sal hiervan hou? Bitter min mense. Hierdie apokaliptiese drama is so oordadig, onoortuigend en oordramaties dat dit Egipte se 10 plae na spookasem laat lyk. ’n Groep mense raak vasgekeer in ’n restaurant in die middel van nêrens toe die engeleskare op hulle neerdaal, maar pleks dat die kyker beangs word, verwonder ’n mens jou aan die spesiale effekte wat duidelik in ’n ateljee vervaardig is. Kortom, ’n mens is deurgaans daarvan bewus dat jy na ’n riller kyk wat kliphard probeer om jou bang te maak, maar wat uiteindelik ver tekortskiet. Paul Bettany is ’n knap akteur, maar selfs hemploos en met vlerke kan hy nie sy oppervlakkige karakter in iets spesiaals verander nie. Was eerder skottelgoed – dit is interessanter.

Wag vir DVD?

Moenie eens vir die DVD wag nie, want hierdie langdradige en stram rolprent maak hoegenaamd nie kontak met sy gehoor nie. Om so ’n rolprent te laat slaag, moet die regisseur die gehoor laat gló in wat gebeur en dit verby ’n spesiale-effekte-sirkus stuur. Die feit dat ons deur al die truuks sien en geen simpatie met die selfsugtige karakters het nie, kniehalter hom nog verder. Ander rolprente het dieselfde soort apokaliptiese storie soveel beter vertel. Vermy dit liefs.

Soortgelyke flieks

Michael, Underworld.

Springmieliefeit

Lucas Black het sy rolprentdebuut op 11-jarige ouderdom gemaak teenoor Kevin Costner in The War nadat hy as model vir Calvin Klein-jeans begin aandag trek het.

Ons dink: 1/5

Aksie. Met Paul Bettany, Lucas Black en Kate Walsh. Regisseur: Scott Stewart. 16GT.

Begin 4 Junie.