Ons dink: 4/5

Rampokker-drama

Met Shia LaBeouf, Tom Hardy en Guy Pearce

Regisseur: John Hillcoat

16DTNG

Begin op 25 Januarie

Jy moet hare op jou tande hê vir dié uiters strydlustige rampokkerprent waarin hardebaarde mekaar opfoeter dat die bloed, bene en derms letterlik in alle rigtings spat. Dit spog ook met die haatlikste psigopaat (Guy Pearce) sedert Tom Hardy ’n masker opgesit het in The Dark Knight Rises. Toevallig speel Hardy weer ’n hoofrol. Hy lei nou die berugte Bondurant-broers wat in 1931 die wet op drankhandel en -stokery oortree het.

Tydens Amerika se berugte drankverbod-era het dié drie broers fluks drank gestook en gesmokkel, maar die skewe, lang arm van die gereg het maar alte graag bakhand gestaan om uit wetteloosheid en omkopery geld te maak. Die karakterisering is nie te waffers nie (Hardy en Jessica Chastain se karakters word byvoorbeeld nie sterk genoeg omlyn nie). Tog is dit tegnies ’n knap maar gewelddadige geweld-allegaartjie.

Dit waarsku sodra jy lekker euwels soos drank verbied, word dit ondergronds gedwing en lei dit tot groter onheil en korrupsie. John Hillcoat, wat The Road gemaak het, bewys hy is hoogs bedrewe met somber en gewelddadige spanning. Maar wees gewaarsku: Die derms spat.

– LEON VAN NIEROP