Komedie.

Met Adam Sandler, Jennifer Aniston en Nicole Kidman.

Regisseur: Dennis Dugan.

10MT.

Begin op 18 Maart.

Ons dink: 1/5

Waaroor gaan dit?

’n Bleeksiel ontmoet ’n beeldskone blondine en wil met haar trou. Hy gebruik sy assistent om sy voorgenome bruid ’n streep te trek . . .

Wie sal hiervan hou?

As jy verlief is op romanse waar pragtige mense in netelige situasies beland, baie lyf wys en die kat in die donker knyp, kan hierdie een jou snare kielie.

Maar met hierdie romantiese komedie bereik Hollywood ’n versadigingspunt, nes rillers verstok geraak het met die Saw-reeks.

Skrywers kan ’n sekere resep net soveel keer gebruik voor die melk suur raak, en in hierdie geval is die karakters moeg en futloos, terwyl die rolprent ’n stewige skop onder sy jis kort plus ’n dosis sterk adrenalien.

Alles lyk so suf en tam dat selfs Jennifer Aniston, wat gewoonlik sprankel, in haar slaap loop en haar woorde geduldig opsê.

Die enigste ligpunt (en enigste rede vir een ster en nie bloot ’n nulletjie nie) is Nicole Kidman as ’n guitige vriendin wat op Aniston jaloers is. Hoe lekker om te sien dat Nicole haar hare kan laat los hang.

Adam Sandler se astrante vertolking en koel houding stem egter ooreen met elke liewe vorige rol wat hy al gespeel het.

Maar die grootste sonde is: Hierdie eentonige komedie is nie snaaks nie. Gaan liewer tandarts toe vir ’n wortelkanaalbehandeling. Dit is ten minste nie vervelig nie!

Soortgelyke flieks

Cactus Flower, Grown Ups, Going the Distance

Springmieliefeite

*Hierdie fliek is ’n moderne aanpassing van die komedietreffer van die 60’s Cactus Flower.

*Adam Sandler het op 17 as komediant begin werk kry nadat hy in Boston spontaan na ’n verhoog toe geloop en begin grappe vertel het.

*Sandler sou die hoofrol in Very Bad Things gespeel het, maar toe kry Christian Slater dit.