Ons dink: 3/5 

Menslikedrama-komedie

Met Jason Segel, Ed Helms en Judy Greer

Regisseurs: Jay en Mark Duplass

13TD

Het op 12 Oktober begin

Dis moeilik om dié aweregse, ietwat rebelse rolprent in ’n boksie te dwing. Dis nie ’n volbloeddrama nie; nog minder ’n lekkerlagkomedie. Dit probeer sy lêplek iewers tussenin kry soos ’n kat wat hom pal op jou beste stoel tuismaak, al verwilder jy hom ook hoe.

Dié fliek laat hom nie kategoriseer nie, en sy sjarme lê miskien daarin dat jy hom nie met ander kan vergelyk nie. ’n Bleeksiel (wie anders as Jason Segel?) woon nog by sy ma (Susan Sarandon). Sy wil hom dwing om nes te skop, maar hy klou aan sy ouerhuis

soos klitsgras aan ’n wolkombers. Hoekom? Het die noodlot ’n plan?

Dié drama-komedie handel juis daaroor dat als met ’n doel gebeur. Jeff moet vasstel wat sy rol is en dit vervul. Dit begin toe iemand hom verkeerdelik bel. Dié oproep ontketen gebeure wat sy lewe verander. ’n Mens is onseker of jy moet giggel, regop sit of jou brein moet aanskakel, want Jeff betrap jou onverhoeds.

Aanbeveel vir mense wat van verrassings hou.

– LEON VAN NIEROP