Ons dink: 3/5 

Menslike drama

Met Bill Murray, Laura Linney en Olivia Williams

Regisseur: Roger Michell

10O

Begin op 15 Maart

Met Lincoln wat nie so goed by die plaaslike loket gevaar het nie (anders as in Amerika), het hierdie intieme rolprent ’n nog kleiner kans. Maar lesers wat vandeesweek meer gesofistikeerde, geskiedkundige vermaak soek as die lamlendige Red Dawn of die koel Warm Bodies, sal die rolprent verrykend vind.

Dis gegrond op die waarheid en handel oor die verhouding tussen Amerika se pres. Franklin D. Roosevelt en sy verlangse niggie Daisy Suckley. Hierdie verbode liefde het bekend geraak tydens ’n gebeurtenisvolle naweek in 1939 toe koning George VI (Bertie van The King’s Speech) en sy vrou in die Roosevelts se ma se huis oorgebly het. Nie net het die twee lande hierna ’n hegter band gesmee wat hulle deur die Tweede Wêreldoorlog gedra het nie; Roosevelt se menslikheid en fyn insig in die koning van Engeland se psige het ook gehelp om vir hom ’n beter selfbeeld te skep.

Daar is ligte, komiese oomblikke, maar dit word getemper deur ironie en die gehoor se voorkennis oor wat gaan gebeur. Pragtige fotografie en die aandag aan detail maak die rolprent ’n fees vir die oog, maar nie almal sal daarvan hou nie.

– LEON VAN NIEROP