Rated: 2/5

Riller

Met Jennifer Lawrence, Elisabeth Shue en Max Thieriot

Regisseur: Nicholas Stoller

13MLV 

Begin op 9 November

Toe, erken dit: Jy gaan net hierna kyk omdat The Hunger Games se Jennifer Lawrence hierin speel! Die riller het darem meer om die lyf as bloot haar teenwoordigheid; dis ’n soort basternabootsing van Hitchcock se Psycho.

’n Meisie en haar onstabiele ma trek in by ’n eensame huis, ’n klipgooi van ’n ou huis waar twee mense grusaam vermoor is. ’n Seun (Chloe se Max Thieriot) woon nou alleen daar. Maar ís hy alleen? En wat gebeur as Jennifer op die oulike knaap verlief raak?

Die storie is net te vergesog en het te veel ongemotiveerde kinkels. Maar dis mos die aard van lekker rillers: dat hulle met logika smokkel. Jy gaan jou boeglam skrik, in jou springmielies verstik en jul beplande woudvakansie kanselleer! Meisies vlug ylings deur donker bosse, skaduwees teister huise en mooi meisies in knap T-hempies word mateloos geterroriseer. Dis ’n lekker eerste-afspraak-fliek dié as jy wil hê jou metgesel moet jou kort-kort gillend aan die hand beetkry!

– LEON VAN NIEROP