Ons dink: 4/5

Biografie

Met Anthony Hopkins, Helen Mirren en Scarlett Johansson

Regisseur: Sacha Gervasi

13G

Begin op 25 Januarie

Alfred Hitchcock word beskou as een van die grootste regisseurs wat selde erkenning gekry het vir sy geniale en baanbrekersrolprente. Dié simpatieke huldeblyk verduidelik in ’n mate, dog nie altyd genoeg nie, waar sy neurose en vrese vandaan kom, maar bekyk ook sy stormagtige huwelik met sy vrou, Alma. Sy was die krag agter die troon en het stil-stil sy draaiboeke herskryf, raad gegee en met unieke voorstelle gekom wat ’n bepalende invloed op sy sukses gehad het.

Toe Hitch se loopbaan wou stagneer, het hy op Robert Bloch se eksplisiete roman Psycho afgekom en besluit om dit te verfilm. Die wyse waarop hy die grusaamhede uitgebeeld en sensuur getroef het, asook sy skokkende en gevierde storttoneel, het die aansien van die riller vir ewig verander.

Die rolprent verken Hitchcock as ’n voyeur en sy beheptheid met kil blondines. Dit wys hoe hy deur middel van die moorde wat hy op die silwerdoek laat pleeg het, kwaai frustrasies verwerk het. Sacha Gervasi bring respekvol hulde aan die groot en waagmoedige regisseur wat vir g’n duiwel gestuit het nie. Die atmosfeer herinner aan Hitchcock se rolprente, met ’n tikkie swart humor. ’n Profeet word nooit in sy land geëer nie. Net vir rolprentfoendies.

– LEON VAN NIEROP