Ons dink: 3/5 

Drama

Met Kevin James en Salma Hayek 

Regisseur: Frank Coraci

13MG 

Begin op 21 Desember

Hierdie fliek is eintlik Rocky gemeng met Stand by Me. Toe sy leerders se buitemuurse aktiwiteite gekanselleer word weens ’n geldtekort, leer ’n oorgewig biologie-onnie, Kevin James, gemengde gevegskuns aan. Hy word pimpel en pers geslaan om geld in te samel vir die leerders wat so afgeskeep is.

Dit kan net in flieks gebeur dat so ’n swaarlywige ploert daarin kan slaag om ’n kakofonie van ystervuishoue en karateskoppe te oorleef, laat staan nog om sodanig opgelei te word dat hy sy teenstanders kan kafdraf. Maar in Hollywood is enigiets moontlik mits dit jou met ’n grinnik op jou bakkies uit die teater sal laat stap, en hierdie fliek is ’n goedvoel-voorbeeld.

Dié vergesogte rolprent kry drie sterre suiwer op grond van sy vermetele waagmoed, moedswil en Kevin James wat vir die eerste keer in sy bestaan ’n aanvaarbare karakter vertolk en nooit (te) vulgêr raak nie.

– LEON VAN NIEROP