Waaroor gaan dit? ’n Weldoener gee onderdak aan ’n verlore brakkie. Daar ontstaan ’n hegte band tussen baas en hond wat selfs nie die dood kan breek nie.

Wie sal hiervan hou? Dit is moeilik om te bepaal wie nie van dié in-nemende en diep menslike diererolprent sal hou nie. Daar is geen oordadige sentiment of ag-siestog-oomblikke nie, net ’n meelewende en deerniswekkende uitbeelding van die liefde tussen ’n hond en sy baas. En as 100 minute dalk vir jou te lank klink vir so ’n eenvoudige storie, hierdie ware verhaal besiel ’n mens en laat jou weer goed voel om te lewe. Dit is stukke beter as wat jy verwag en word ten sterkste aanbeveel as een van die aandoenlikste en aangrypendste rolprente van die jaar. Die kritici was in trane! Gaan kyk beslis.

Wag vir DVD? Ja, jy kan, want veral kleingoed sal vasgenael na die brak se kaskenades en uiteindelike onsterflike liefde vir sy baas kyk. Dit is byna onmoontlik om te glo dat ’n hond vir so lank sy baas se goedhartigheid kan onthou en dat hy tot die uiterste getrou aan sy weldoener se nalatenskap kan wees. Die regie is onderspeel, die emosie getemper en die vreugde van hondwees sterk beklemtoon in hierdie mooiste van allermooiste rolprente. Sterk aanbeveel.

Soortgelyke flieks The Bear, Marley and Me, Born Free.

Springmieliefeite - Die rolprent is gegrond op ’n ware verhaal wat in die dertigerjare in Japan afgespeel het. - Die inwoners het uit hul eie sak ’n standbeeld vir Hachiko opgerig.

Ons dink: 4/5

HACHIKO: A DOG’S STORY Menslike verhaal. Met RICHARD GERE, SARAH ROEMER en JOAN ALLEN.  Regisseur: Lasse Halström. OB.

Begin op  16 April.