Ons dink: 3/5 

Romantiese komedie

Met Eduan van Jaarsveld, Zethu Dhlomo en Jerry Mofokeng

Regisseur: Henk Pretorius

7-9O

Begin op 1 Maart

Die man wat saam met Danie Bester vir die Bakgat-kultus verantwoordelik was, het ’n regsomkeer gemaak, ’n tydige rolprent hoofsaaklik in Engels vervaardig en ’n tema aangepak waarvoor baie skrywers en regisseurs skrikkerig is.

Saam met Janine Eser vertel hy die verhaal van ’n boerseun (Eduan van Jaarsveld) wat verlief raak op ’n Zoeloe-meisie (Zethu Dhlomo) en die konsternasie wat dit onder hul familie, vriende en ouers veroorsaak. Die tema word hier in beter smaak en met fyner humor en insig in verhoudings benader as in die soortgelyke I Now Pronounce you Black and White.

Die skrywers se begrip van (Suid-)Afrikaanse sensitiwiteite, hul spitsvondige dialoog en vindingryke situasies, plaas die rolprent binne die bereik van ’n wye gehoor. Eduan van Jaarsveld het ongelukkig nie genoeg gesag in die rol van Fanie nie en daar is min vonk tussen hom en Dhlomo, maar die prent se goeie bedoelings en knap, dapper ontginning van iets wat ál meer voorkom, sal mense laat lag en kan tot stewige debat lei, nes ’n goeie rolprent veronderstel is om te doen. Waag ’n kans!

– LEON VAN NIEROP

Gratis voorskou!

Wat gebeur as ’n Afrikaanse ou en ’n Zoeloe-meisie verlief raak en deur die ingewikkelde proses van lobola moet werk? Vind uit in die nuwe fliek Fanie Fourie’s Lobola wat op 1 Maart in teaters begin draai. Jy kan gratis kaartjies na Huisgenoot se eksklusiewe première op Donderdag 28 Februarie by uitgesoekte teaters regoor die land wen. Besoek huisgenoot.com of ons Facebook-blad om jou kaartjies te eis.