Waaroor gaan dit?

Hierdie vrolike biografie is gegrond op die ware verhaal van ’n vrou wie se huwelik verbrokkel het en wat toe besluit om Italië en Indië alleen te verken om geestelike balans te kry.

Wie sal hiervan hou?

As sentiment, melodrama en mooi mense jou kliere kielie, is dié pragtige romantiese drama in die kol vir jou.

Veral vroue sal dalk voel dat hierdie Julia Roberts-romanse eintlik vier sterre werd is, maar die aanslag is net ’n bietjie te soetsappig en manipulerend daarvoor.

Weet net dit sal voel soos ’n twee uur lange vakansie waar jy eksotiese plekke sal besoek en in die geselskap van verskeie vleispaleise sal verkeer wat mej. Roberts se lewe ingewikkeld maak.

Ideale maar stroperige ontspanningsvermaak.

Wag vir DVD?

Hoekom wag vir die DVD as jy vanaand reeds saam met die pragtige Julia Roberts kan vakansie hou en onder meer Italië en Indië kan platry in haar sjarmante geselskap?

Dit bewys dat geen droom onmoontlik is nie. As jou hart op die regte plek is en jou motiewe goed is, kan jy romanse en geestelike vervulling op dieselfde dag ontdek!

Maar jy moet leer om liefde te waardeer.

Die tempo is gemaklik, die spel goed en die aanslag vurig en sexy. Heerlike ontspanningsvermaak vir vroue.

Soortgelyke flieks

Under the Tuscan Sun, The Back-up Plan.

Springmieliefeite

*Ryan Murphy is een van die skeppers van die treffer-TV-reeks Glee.

*Julia Roberts is die hoofrolle in Basic Instinct en Shakespeare in Love aangebied, maar het albei geweier.

*Sy het aanvanklik vir ’n rol in die sepie All My Children ’n oudisie gedoen, maar het die oudisie gedop!

Romantiese drama.

Met Julia Roberts, Billy Crudup en James Franco. Regisseur: Ryan Murphy.

10MT.

Begin op 8 Oktober.

Ons dink: 3/5