Waaroor gaan dit?

’n Slinkse paloeka spog dat hy enigiets kan steel, van ’n piramide tot die maan! Dan maak drie spitsvondige meisiekinders hul opwagting in sy lewe.

Wie sal hiervan hou?

Fliekgangers wat na iets anders as die gewone oulike en veilige animasiepret soek.

Dit is ’n komedie wat nie soetsappig is nie en temas ontgin wat selde al in animasie vertel is.

Die sterk punte van hierdie tekenkaperjolle is die kwistige kwinkslae, die prag-animasiewerk en die vermetele hoofkarakter, Gru, ’n koel skurk met die lelikste maar lieflikste gevreet sedert The Hunchback of Notre Dame.

En dan is daar die biljuisende “minions” – vreemde hoppende mannetjies met oë wat dwarsdeur jou kyk en ’n onnutsigheid wat jou stoutste kleuter in die skadu sal stel.

Maar die fliek gaan veral oor familie- en gesinsgeluk, maar op ’n unieke, koel manier vertel.

Wag vir DVD?

Gaan kyk dit in ’n teater om dit in 3D te geniet.

Maar dit sal nie skade doen as jy goedkoper wil fliek en dit in 2 dimensies gaan kyk nie – daarom kan jy die DVD later aanskaf om die neulende kleingoed tevrede te stel wat dit weer wil sien.

Omdat sommige tonele nogal intens is vir die heel kleintjies, moet ouers maar by wees, maar daar is niks wat hulle te erg sal omkrap nie.

Om die waarheid te sê maak die fliek prikkelende en positiewe stellings oor ouerskap en wat dit behels om ’n deugsame pa te wees al het jy nie goeie rapport met kinders nie.

Soortgelyke flieks

Monster House, Coraline, 9

Springmielie-feite

*Gru se naam kom van ’n Russiese militêre intelligensie-agentskap.

*Die taal wat die “minions” praat, is spesiaal deur die twee draaiboekskrywers geskep en elke woord het ’n bepaalde betekenis.

*Steve Carell het besluit om die TV-reeks The Office te verlaat.

Animasie-komedie. Met die stemme van Steve Carell, Jason Segel en Julie Andrews.

Regie: Pierre Coffin en Chris Renaud.

O.

Begin 1 Oktober.

Ons dink: 3/5