Drama.

Met Hilary Swank, Sam Rockwell en Melissa Leo.

Regisseur: Tony Goldwyn.

16LV.

Begin 4 Maart.

Ons dink: 2/5

Waaroor gaan dit?

Betty Anne Waters, ’n enkelma, werk haarself flenters om haar regsgraad te kry en liggaam en siel aanmekaar te hou. Haar broer word van moord aangekla en sy probeer sy onskuld bewys.

Wie sal hiervan hou?

Miskien bewonderaars van Hilary Swank, want sy is ’n briljante en intense aktrise.

Maar hierdie rolprent het nie ’n dringende aanslag waarin ’n mens van toneel na toneel voortsnel en wonder wat gaan gebeur nie.

Dit is amper soos ’n geskiedenislessie waarin jou onderwyser feite aframmel sonder om genoeg persoonlikheid aan die storie te gee. En dit kan op ’n ware verhaal gegrond wees, maar Tony Goldwyn se regie neig om by tye te tam en traag te wees.

Tog bly ’n mens sit. Eintlik maar net om uit te vind wie die moord werklik gepleeg het en om te sien hoe Betty haar loslitbroer, wat g’n verantwoordelikheidsin het nie, uit die tronk gaan kry.

Die gehoor het ook nie juis empatie met hom nie oor sy nonchalante en koel houding teenoor sy lot.

Die rolprent slaag egter wel daarin om ’n realistiese prentjie van ’n middelklas-lewenswyse te skep. Gewoonlik sien regisseurs neer op doodgewone mense wat in normale omstandighede probeer oorleef, maar hierdie slag word die verkeerde-kant-van-die-spoor-kultuur raak uitgebeeld.

Die probleem is dat die gehoor nooit ten volle betrokke raak by Betty se storie nie.

’n Mens begin later die tyd omwens. Beskou dit liewer as ’n huldeblyk aan ’n suster se liefde vir haar broer en die uiterstes waartoe familie sal gaan om mekaar by te staan.

As jy dus gewoond is aan die seepgladde tempo van TV-reekse oor hofsake, kan hierdie een jou teleurstel.

Soortgelyke flieks

The Next Three Days, Ghost Writer.

Springmieliefeit

*Hilary Swank het reeds twee Oscars as beste aktrise gewen.