Ons dink: 3/5 

Romantiese komedie

Met Ty Burrell, Jennifer Garner en Hugh Jackman

Regisseur: Jim Field Smith

16TSV

Begin 4 Januarie

Eers dink ’n mens die skrywer is van lotjie getik. Om ’n draaiboek te skryf oor mense wat kunswerke uit botter skep! Dan word dit  duidelik wat hy probeer sê: dat g’n mens, behalwe inwoners op die platteland, ’n kleindorpse kultuur kan verstaan nie. Dat sommige individue sonderlinge talente het waaroor ons nie eens kan droom nie. En dat sommige mense die room van ander se lewens afskep en voordeel trek uit die botter wat daaruit gemaak word.

Die verhaal begin wanneer die bobaas-botter-beeldhouer in Iowa ná dekades se sukses besluit om ander ’n kans te gee om die beste botterkunstenaar van die jaar te word. Sy selfsugtige vrou (’n heerlike opstuur-vertolking deur Jennifer Garner), ’n vrou van losse sedes en ’n jong meisie ding dan teen mekaar mee om die topprys en ontmasker kleindorpse venyn en agterbaksheid op ’n satiriese wyse. As jy gaan kyk, moet jy eers die botter dik op jou fliekbrood smeer, want die rolprentmakers dryf die spot met kleingeestigheid en neurose. Dis nie noodwendig baie goed nie, maar kan jou deur nuwe oë na die eksentrisiteite van jou bure laat kyk.

– LEON VAN NIEROP