Musiekprent.

Met Christina Aguilera, Cher en Cam Gigandet.

Regisseur: Steve Antin.

16TGN.

Begin 21 Januarie.

Ons dink: 2/5

Waaroor gaan dit?

’n Plattelandse meisie wat graag wil sing, daag in Los Angeles op en probeer naam maak. Sy beland in ’n tweederangse klub, waar sy ’n legendariese diva ontmoet wat besluit om haar ’n kans te gee om te wys wat sy kan doen . . .

Wie sal hiervan hou?

Dit is ’n sliertige en effens kommin fliek wat eintlik net geskryf is om die twee bekende divas Cher enChristina saam in dieselfde rolprent te kry.

Die storie het minder om die lyf as Paris Hilton se stertriem, die spel is oordrewe en Cher kan skaars haar gesig beweeg van al die ontrimpelings.

Selfs die musiek is onmerkwaardig. En die liefdesverhaal word aan die hare bygesleep en gee Cam oorgenoeg geleentheid om van sy hemp (en die res!) ontslae te raak.

Wag vir DVD?

Nee, as jy werklik voel jy moet dit aan jouself doen, bestorm ’n teater saam met jou vriende. Julle sal enersyds gil van die lag en andersyds droom dat hierdie storie dalk joune kan wees!

Dié bloosplesiertjie is egter so tweedehands en aards dat ’n mens wonder of enigiemand dit sou gaan kyk het as die groot vrouename nie hierby betrokke was nie. Daar is meer grimering op die gesigte as in ’n poeierfabriek!

Ligte afleiding, maar ’n power fliek.

Soortgelyke flieks

Showgirls, Nine.

Springmieliefeit 

*Cher is eerste die rol van Thelma aangebied in Thelma and Louise.

Kiek die ikoon (Vermaak-blad, Huisgenoot 20 Januarie 2011) met jou foon om ’n lokprent vir Burlesque te sien.